geskeides kry helfte van man se fonds
3 Oktober 2007
’n “Stormloop soos die land nog nooit beleef het nie” van geskeide vroue wat onmiddellik die uitbetaling van die helfte van hul gewese mans se pensioengeld eis, kan verwag word ná ’n beslissing gister van die Pensioenfondsberegter.
In die beslissing het die beregter, me. Mamodupi Mohlala, beslis dat ’n wetswysiging aan die Wet op Pensioenfondse wat op 13 September vanjaar in werking getree het, van toepassing sal wees op álle egskeidingsbevele waarin die partye ooreengekom het dat die nie-lid van die pensioenfonds geregtig sal wees op die helfte van die lid se pensioengeld.
Tot 12 September het die reg bepaal dat die nie-lid (normaalweg die vrou) eers haar helfte van die pensioengeld sal kry sodra die lid geregtig word op die uitbetaling van sy pensioengeld (dus by aftrede, bedanking of uitdiensstelling).
Die wetswysiging bepaal nou dat die nie-lid vanaf die datum van die egskeidingsbevel reeds op sy of haar helfte van die lid se pensioengeld geregtig is en dat geen pensioenfonds mag weier om binne 60 dae ná ontvangs van die egskeidingsbevel van die nie-lid, die geld aan die nie-lid uit te betaal nie.
Mohlala het voorts bevind dat die gewone regsreël dat wette nie terugwerkend van krag sal wees nie, nie sal geld wat hierdie wetswysiging betref nie.
Dit beteken in praktyk dat alle geskeide vroue – of hulle ’n maand gelede of 10 jaar gelede geskei is – wie se mans nog werk, nou onmiddellik hul helfte van die man se pensioengeld van die fonds kan eis en dat dié fonds gedwing word om dit uit te betaal.
Die enigste vereiste is dat die egskeidingsbevel bepaal dat die nie-lid geregtig is op helfte van die lid se pensioengeld. Die vrou is egter net geregtig op uitbetaling van die helfte van haar man se pensioengeld soos dit was op die datum van die egskeidingsbevel. As die egskeiding vier jaar gelede was, kry sy die helfte van die bedrag van die pensioengeld soos dit vier jaar gelede was en nie ook die helfte van die bedrag waarmee die fonds in die laaste vier jaar gegroei het nie.
Mnr. Faan Coetzee, arbeidsregkenner en direkteur van die Sandtonse firma Hofmeyr, het gister in reaksie gesê ’n stortvloed van vroue wat eise teen pensioenfondse instel, kan nou verwag word. “Hierdie uitspraak is na my mening een van die belangrikste uitsprake in verband met egskeidings en pensioengeld in die moderne tyd.”
Philip de Bruin
Ontvang deur Ritz de la Bat.