moet nog nie jubel oor onteieningswetgewing
19 Augustus 2008
 
Nadat verlede week aangekondig is dat die wetgewing teruggetrek “kan” word, afhangend van die parlementêre regsadviseurs se mening oor die grondwetlikheid van die konsepwet, is daar nog nie duidelikheid oor sy status nie.   Die konsepwet oor ?onteiening het ten doel om die ou Onteieningswet van 1975 in pas met die Grondwet te bring en maak voorsiening vir die onteiening van grond sowel as roerende bates.

Die bespoediging van grondhervorming is een van die hoofredes vir die wetswysigings.   “Die ANC het nog nie aangedui dat die wet finaal teruggetrek word nie,” het mnr. Dave Steward, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting, aan Sake24 gesê.  Die voorgenome wysiging van Wet 63 van 1975 sloer al bykans drie jaar.

Die wysigings is in die eerste week van Desember 2007 in die Staatskoerant aangekondig. Sedertdien word dit teen ’n spoed gehanteer – ondanks groot besware uit verskeie oorde wat die grondwetlikheid daarvan in twyfel trek.  “Dit is onwaarskynlik dat dié wetgewing voor die volgende verkiesing weer in die parlement sal aandag kry, maar terselfdertyd is daar ook geen waarborg oor wátter soort wetgewing ná die verkiesing sal verskyn nie,” het Steward gesê.
Volgens hom is een van die belangrikste onduidelikhede in die wysigingswetsontwerp wat die politici moet uitklaar, wat presies met die begrip “in die openbare belang” bedoel word.

Die ou wet bepaal daar kan vir “openbare doel?eindes”, soos vir die ontwikkeling van paaie en parke, onteien word.   Volgens die wysigings kan die minister van openbare werke bepaal hoeveel vergoeding aan ’n eienaar betaal behoort te word, onderhewig aan slegs die hersiening of goedkeuring van die howe.
Die minister kan ook namens ’n regspersoon onteien en dit kan van toepassing wees op aandele en ander roerende bates.   Steward meen die bestaande Onteieningswet móét gewysig word, maar nie teenstrydig met die Grondwet nie.

Navorsing deur die vakbond Solidariteit se Instituut vir Grondwetlike- en Arbeidsregtelike Studies wys hoe meer eiendom in ’n land beskerm word, hoe ryker is die inwoners.   Mnr. Jaco Kleynhans, Solidariteit-woordvoerder, sê die navorsing bewys die toepassing van die konsepwet gaan uiteindelik nie net mense wat eiendom besit, beïnvloed nie, maar elke Suid-Afrikaner.

Ontwikkelende lande wat ongelyke grondregte het, se BBP-groei is laer as dié waar grond beter verdeel is. Lande, soos Suid-Afrika, met ’n ongelyke verdeling van grond, groei oor die algemeen stadiger teenoor ander, soos China, wat verder met herverdeling gevorder het.

Jean-Marie de Waal, Volksblad, www.news24.com