PH Firms | Knowledge Centre | Intranet | Training Portal Firms  |  Home    
 
      Hot off the Press
  Home
  Useful Links
 
  Contact Us
  Library Search
  Admin
 
 
 

hof grom vir departement van werke oor tender
27 Februarie 2008

Artikel geskryf deur Philip de Bruin, Volksblad, Woensdag 27 February 2008.

Amptenare van die Departement van Openbare Werke "van die laagste tot die hoogste vlak" se hantering van 'n baie belangrike tender was so "deurspek met onbekwaamheid" dat dit tersyde gestel moet word.  En dit gaan die belastingbetaler honderdduisende rande uit die sak jaag.  Waarnemende regter L. Visser het in die hooggeregshof in Pretoria bevind dat amptenare "van die mees junior vlak tot die mees senior vlak" in die departement nie " 'n elementere fout in die tenderproses raaakgesien het nie en dat die fout toegelaat is om hom aanhoudend te herhaal."

Die tender hou verband met die installering van stelsels om watervoorsiening in Noordwes veral aan myne en nywerhede aansienlik goedkoper te maak. Die tender was uniek in die sin dat alle tenderaars geweet het hulle gaan nie deur openbare werke betaal word vir die werk aan die stelsels om goedkoper water te lewer nie. 

Elke tenderaar moes eerder in sy tender aandui hoeveel van die geld wat met die inwerkingsteling van die stelsel aan waterlewering bespaar word, hy vir homself gaan hou en hoeveel van die besparing in openbare werke se sak sal beland.  Die organisasie Netgroup-Venn Diagnotics Joint (Netgroup) het getender en aangedui dat hy 40% van die besparings sal hou en 60% aan openbare werke sal gee.  Toe die tenderbesonderhede deur 'n amptenaar van openbare werke op die amptelike vorms ingevul is, is die twee persentatsies egter "per abuis" omgeruil sodat dit op die amptelike vorms wat die tender komitee ontvang het, gelyk het of Netgroup 60% van die besparings vir homself gaan hou en net 40% aan die departement sal oorbetaal.

Die fout het daartoe gelei dat die tender nie aan Netgroup toegestaan is nie. Die beslote korporasie Zimport Water Service (Zimport) het die tender gekry.

Toe Netgroup agterkom wat aangaan, is die departement in kennis gestel en openbare werke het 'n aansoek in die hooggeregshof gebring om sy eie tenderproses in die geval tersyde te laat stel.  Visser het bevind dat die tender inderdaad "fataal" is weens die "ernstige pligsversuim" van die betrokke amptenare.  Hy wou egter nie Netgroup se versoek toestaan dat hy (Visser) summier gelas dat Netgroup die tender moet kry nie.  Ander faktore moet ook deur 'n tenderkommittee in ag geneem word, het Visser gese.

Hy het gelas dat die toekenning van die tender aan Zimport tersyde gestel word en dat die departement alle tenders wat teen die afsnydatum ontvang is, moet heroorweeg.  In praktyk beteken dit dat die besparings op watervoorsiening met maande vertraag word en dat honderdduisende rande gevolglik weens openbare werke se nalatigheid tussen saam met nog honderduisende rande aan regskoste in die water gegooi word.

Die Volksblad

 

 
 
  © phatshoane henney inc. 2007

Contact Us  |  Terms of Use  |  Privacy Policy